VREDENBURG. Tommie Laubscher, Springbok rugbyspeler (Verfilm op Saterdag 8 Oktober 1994)

Поделиться
HTML-код
  • Опубликовано: 5 янв 2016
  • Opgelaai deur · Uploaded by Inus Bester.
    Thomas Gersbach Laubscher is op 8 Oktober 1963 in Vredenburg gebore. Sy noemnaam was Tommie, vernoem na sy pa Tommie Laubscher, koring- en veeboer van die familieplaas Bessieheuwel. Sy ma was Yvonne en sy ouer susters Eleonore en Leonie.
    Tommie het sy skoolloopbaan begin aan die Laerskool Vredenburg en matrikuleer aan die Hoërskool Vredenburg.
    Tommie het 6 toetse vir die Springbokke gespeel, die eerste op sy 31ste verjaardag, Saterdag 8 Oktober 1994 op die Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth teen Argentinië (die video hierbo). Sy laaste toets vir die Springbokke was op 32-jarige ouderdom teen Engeland op Twickenham in Londen.
    In die vroeë oggendure van Saterdag 26 Mei 2007 sterf Tommie skielik op 43-jarige ouderdom.
    Die Sondagkoerant Rapport berig Sondag 27 Mei 2007 as volg onder die opskrif “Oud-Bok red sy seun en sterf”:
    “Tommie Laubscher (43), kragman van die WP en die Springbokke wat gister in die vroeë oggendure gesterf het, het enkele oomblikke voor sy dood ’n heldedaad verrig. Toe hy die aankomende voertuig sien wat hom noodlottig sou tref, het Tommie sy oudste seun, Tommie jr., uit die pad gestoot. Die oud-voorryman het sy WP-baadjie aangehad toe hy gesterf het.
    Minute later, nadat hy raakgery is, het Tommie in die arms van sy boesemvriend, Johann “Bokkom” Cilliers, gesterf… Tommie is dood nadat ’n bakkie hom getref het terwyl hy op pad was na ’n ongelukstoneel waar ’n motor in digte mis teen ’n bees gebots het. Hy en Tommie jr. wou gaan help, maar ’n paar meter daarvandaan is hy deur ’n aankomende bakkie getref.. Agter die stuur van die bakkie was ’n ander vriend saam met wie hulle kort tevore nog gebraai het.’n Gebroke Cilliers het gister met Rapport gepraat. “Ek was eerste op die toneel waar ’n kar teen ’n bees gebots het. Toe ek inklim om te ry, het ek bande hoor skreeu. Ek het omgedraai en omtrent 30 m verder het Tommie gelê. Hy het nog geleef. Ek het hom in my arms geneem en toe gee Tommie vir my ’n laaste drukkie. Toe sterf hy. Hy was my tjomma en my broer.” Volgens Bokkom se vrou, Jeanette, het Tommie volgehou dat hulle Vrydagaand by hom moet kom kuier. “Hy het sy WP-rugbybaadjie aangehad en vir ons ’n lekker seekospotjie aanmekaar geslaan soos net Tommie dit kon doen. Hy het ons laat lag met sy kwinkslae. “Nadat ons klaar geëet het, het die kinders geneul dat ons wildevarke moet gaan jag.
    “Op pad huis toe het ons stilgehou waar iemand in ’n bees vasgejaag het. Tommie het agter ons gery. Ons het hom gebel om hom te waarsku oor die ongeluk en om versigtig te ry.
    “Hy het so 100 m van die ongeluk stilgehou en hy en klein Tommie het uitgeklim. Dis toe dat hy omgery is. Ons wil nie eens hieroor praat nie, want dit is te seer.”Bokkom sê Tommie was ’n legende, nie net op die rugbyveld nie, maar ook vir sy vriende. “Hy sou in Oktober 44 oud geword het. Hy het dit sommer sy 4x4-paartie genoem. Hy was ’n groot man met ’n klein hart.”
    Tommie het as WP-stut - hy het die skaal op ’n goeie 117 kg laat kreun - sy teenstanders laat knor in die skrums. Hy het in 1980 en 1981 altesame 43 keer vir die Boland uitgedraf en amper 100 wedstryde vir die WP gespeel. Sy debuuttoets was teen Argentinië in 1994 in Port Elizabeth.
    Tommie jr., ’n matriekleerling aan die Hoërskool Drostdy in Worcester, moes verdowing kry. Ook Tommie se vrou, Antoinette, is baie emosioneel. “Klein Tommie het vanoggend gesê al geskenk wat hy sy pa kan gee, is om ’n Springbok-rugbyspeler te word,” sê Bokkom. Hy speel flank vir sy skool.
    Ook die ander kinders, André (11) en Elmarie (16), is baie emosioneel. Mnr. Andries du Toit, ’n oom van Tommie, sê hy moes inderhaas gisteroggend Vredenburg toe ry om die nuus aan Tommie se bejaarde ma, mev. Yvonne Laubscher, oor te dra. “Sy is al 70 en haar hart is gebreek. Sy sukkel om te aanvaar dat haar enigste seun dood is. Sy en Tommie was baie na aan mekaar.” Kapt. Randall Stoffels, ’n polisiewoordvoerder in die Kaap, sê ’n dossier van strafbare manslag is geopen. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Комментарии •