Aanlyn onderrig: US-rektor se selfie video aan studente en personeel

Поделиться
HTML-код
  • Опубликовано: 18 сен 2024
  • Boodskap deur prof Wim de Villiers op 20 April 2020, aan die begin van die tweede kwartaal:
    Hallo, almal. Ek neem hierdie boodskap tuis op, want, soos julle, is ek ook nog onder inperking - ’n maatreël wat ons regering, soos baie ander lande dwarsoor die wêreld, ingestel het om die verspreiding van COVID-19 te beperk.
    Hierdie pandemie hou ’n ernstige bedreiging in vir ons nasie se gesondheid, maar dit het ook ’n negatiewe uitwerking op vele ander sektore, insluitend onderwys. Soos jy weet, is dit nie tans moontlik om ná die verlengde herfsreses weer met klas te begin nie - ten minste nie die tradisionele kontakonderrig nie.
    En tog kan ons nie bekostig om hierdie akademiese jaar te verloor nie. Daarom het ons by die Universiteit Stellenbosch reeds vroeg in die krisis besluit om so gou moontlik na aanlyn onderrig en leer oor te skakel. En nou het daardie tyd aangebreek.
    Dis baie opwindend, maar ook ’n bietjie angswekkend - en ek weet, want ek moes self vir aanlyn lesings vandeesweek voorberei. Daar’s nuwe tegnologie om baas te raak, nuwe vaardighede om te bemeester … in baie opsigte ’n hele nuwe denkwyse om aan te leer.
    Net meer as ’n maand gelede was ons nog almal saam in die klas, van aangesig tot aangesig besig met onderrig en leer. Ons het saam interessante onderwerpe bespreek, mekaar uitgedaag, saam kennis ontdek en gegroei.
    Nou moet ons dít alles virtueel doen, aanlyn van die huis af deur ons rekenaars of slimfone. Jy sal nie tussen jou vriende en kollegas wees nie. So, dit sal moeilik wees, dít besef ek. Ons het byvoorbeeld probleme op Dag 1 ervaar toe almal gelyktydig op SUNLearn wou aanmeld.
    Maar ek glo ons kan hierdie uitdagings oorkom. En daar is ’n paar faktore wat in ons guns tel.
    Eerstens is ons nie groentjies wat e-leer betref nie. Trouens, ons is reeds ’n hele aantal jaar besig om ons e-leeraanbod stelselmatig uit te brei. So, ons het waardevolle stelsels en interne kundigheid opgebou, wat nou baie goed te pas kom. ’n Groot dankie aan ons personeellede wat gedurende die reses onverpoosd gewerk het om so goed moontlik voor te berei sodat ons kan seker maak dat 2020 vir elke studente ’n suksesvolle akademiese jaar kan wees.
    Gaan kyk gerus na die spesiale blad vir aanlynleer-en-onderrigsteun op die Universiteit se webtuiste. Dit bevat ’n klomp nuttige inligting en goeie wenke. En moenie huiwer om hulp te vra nie.
    Die tweede faktor tot ons voordeel is dat ons alles in die stryd werp om soveel moontlik studente in staat te stel om aanlyn verder te studeer. Ons het 1 500 skootrekenaars aangeskaf wat beskikbaar gestel sal word aan diegene wat dit nodig het. Ons het die nodige toestemming bekom om dit gedurende die inperking te laat aflewer. En die groot selfoonnetwerke het ingestem om studente gratis toegang tot ons aanlyn platform SUNLearn te gee.
    Ook hiéroor sal jy meer besonderhede op ons webtuiste kry, sowel as inligting oor veranderinge aan die akademiese kalender vir die res van die jaar, en bepalings vir hertoelating tot die Universiteit volgende jaar.
    Kom ek noem nog een laaste faktor tot ons voordeel, en dis ons akademiese uitnemendheid. Die Universiteit Stellenbosch se programaanbod is van ’n besonder hoë gehalte en word gereeld aan streng eksterne akkreditasie onderwerp. Ons spog ook jare lank reeds met hoë studentedeursetsyfers. En ons het talentvolle en toegewyde personeel, wat trots waak oor ons reputasie as ’n hoog aangeskrewe universiteit, wat nou vir tyd en wyl in die kuberruimte funksioneer.
    So, hierdie is jou geleentheid om op die grondvloer op te klim en die hyser na bo te neem namate ons saam ’n nuwe toekoms bou.
    Ons is dalk ingeperk, maar ons potensiaal is beslis nié. Trouens, die huidige krisis het belangrike geleenthede vir ons almal ontsluit. Kom ons gryp dit aan en gaan saam vorentoe. Forward together. Masiye phambili.

Комментарии •